Wanneer dit kom by huldeblyke is daar altyd 'n mengsel emosies en herrinneringe wat in mens se kop afspeel; wat kies 'n mens? Wat los mens? Wat sê jy? Wat sê jy nie? ens. Ek dink wel daar is 'n algehele konsensus in dié sentiment: (oom) Leo was 'n man van formaat, en sy nalatenskap en impak op mense was ongelooflik waardevol. Nietemin, wil ek nie myself beperk tot "cliché" oppervlakkighede, wat mense altyd vir mekaar sê as iemand oorlede is nie. Dus sal ek graag my unieke brokkie herrineringe as huldeblyk aan hom en sy nalatenskap wil bydra.
In alle eerlikheid, het my persepsie van hom nie altyd dieselfde gebly nie. Daar was kere wat hy my (as 'n onervare, ongedissiplineerde jongmens) erg frustreer het met sommige van sy nukke -en mannerismes, maar aan die anderkant is ek seker ons almal het sulke goedjies waarop ons soms fokus wanneer iemand gereëld in ons geselskap is. Dit help om 'n onrealisties-utopiese beeld van perfeksie meer realisties te help konstrueer. Nie almal se persoonlikhede is ekwivalent tot blommeruikers nie. En wanneer iemand leef, besef mens nie rêrig dat hulle eendag gaan sterf nie. En daarom - in die gees van die oomblik - is dit dus moeilik om waardering en agting vir die bietjies waarhede asook wyshede te hê op daardie stadium waar 'n mens dit met 'n bitter pil moet sluk.
Met dit gesê, was oom Leo altyd vol kennis en waarhede (so ongemaklik en frustrerend as wat dit soms was om aan te hoor). En in alles wat hy gedoen het, was hy opreg en eerlik; sy netheid, sy hartlikheid en sy groot-snor-glimlag is alles dinge wat vir altyd by my sal bly. Ek dink (tussen my en my sussie), het ek grootendeels baie meer waardering gehad vir Oom Leo se sentimente, as wat sy het. Want, as hy sy sin begin met, "maar weet jy waar kom daai ding vandaan?" Het sy gesug, en ek het opnuut met aandag en belangstelling geluister.
Ek raak eerlikwaar skoon opgewonde met nostalgie terwyl ek hierdie tik, want dis seker dié gebied waarvoor ek die meeste waardering van oom Leo gehad het! Alhoewel, ten spyte van sy kennis het hy (natuurlik) baie ervaring met jongmense gehad, en het altyd 'n manier gehad om op 'n redelike manier tot my (en my sussie) soms deur te dring. Ek het grootendeels sonder 'n Pa-figuur grootgeword, so 'n manlike rolmodel wat my, meer kere as wat ek soms sal wil erken, aan bande moes lê - was vir my 'n nuwe onbekende uitdaging gewees.
'n Voorbeeld hiervan is: ons was een aand by my niggie se troue gewees. Ek en my neefs het gehoor daar is nog geld in die 'bar tab' oor, wat ons kan gebruik om vir ons drankies te bestel. Natuurlik, het ek gedink ek is heel selfvoldaan en het gedink ek kan byhou, maar ongelukkig was my neefs geharde drinkers en ek nie. En dit het my later duur te staan gekom, toe ek in oom Leo se swart BMW siek word. Ja, ek weet, dit was die toppunt van; "wat de moer het ek nou aangevang". Hy het toe langs Menlyn Mall afgetrek, aan die linkerkant van die pad, oorkant 'n motorhandelaar, en instruksies vir my geskree terwyl ek uitklim en naderhand die teerpad gebukkend, hande op my knieë onder oë het.
Toe die ergste verby is, klim ek weer in, en ry ons terug. Ek kon in die atmosfeer aanvoel ek het nou lelik aangejaag, maar was verlig om te hoor dat ek nie veel skade aangerig het nie... - die volgende paar dae spandeer ek in die bed en kripeer van my eie pseudo bravado en onverantwoordelikheid. Drie dae later, nooi Oom Leo my vir 'n koffie by die Sutherland Spar: hou ingedagte, ek het 'n uitvreet-sessie soos nooit tevore verwag, maar was verras met sy koel en kalm empatiese benadering.
Hy het vir my baie dinge daardie dag gesê (geleer), maar wat hy oor die algemeen aan my wou oordra is dat ek nie moes neerdaal tot so vlak nie, maar dat ek myself eerder moet begewe tot die standaard van wat die akademie van my verwag. Verder het hy besluit om daar en dan vir my 'n YouTube, TedTalk video te wys; "Fake It 'Till You Make It" van Amy Cuddy. Die waarhede wat ek daaruit geleer het, sal my virewig bybly. Dit was vir my, van onskatbare waarde gewees; vandag beveel ek dit weer vir ander mense aan wat ná mý opkyk.
En met dit gesê, benewens die wysheid, en die leergierigheid wat hy getoon het, was hy 'n uitstekende braai-kok: die braai-pie, braaibroodjies, steak, wors, vis en so meer wat hy alles op die Weber kon gaarmaak, was altyd die beste gewees! Ek gaan dit regtig mis... Verder het oom Leo se liefde vir Jazz by my ook aangesteek toe ek eendag besig was met die skryf van my Meesters-graad verhandeling in 2020. Ek wens meer mans het die voorkoms, persoonlikheid en hartlikheid van Oom Leo gehad, om nie te praat van sy dissipline sowel as sy manierlikheid nie.
Hy het altyd met gesag en oorgawe gepraat, en die feit dat hy altyd sy kamera uitgepluk het om 'n foto te neem as ons iewers heen gegaan het, was ook 'n baie spesiale kenmerk! Al verpes ek familie foto's, het dit vir hom groot betekenis gehad om ons af te neem. Oom Leo was merkwaardig gewees, en daar is so baie familie byeenkomste, naaweek-braaie, en uiteet geleenthede waarheen hy saamgekom het, wat steeds in my kop afspeel met tellelose goeie herinneringe.
Hy het definitief 'n indruk op my gelaat. Ek het baie liefde, respek -en waardering vir hom gehad. Dit was 'n voorreg om hom te ken, en dit sal nooit verander nie! Rus sag, Oom Leo... - Jy het hard gewerk (en gely) vir hierdie !