FRIENDS
Eskom speel woer-woer met ons deur die load shedding-skedule na hartelus te verander (wanneer die aanvraag op sy laagste is, tydens die Desember-vakansie). "Squirrel" Ramaphosa oorleef Farmgate (vir nou). 26 mense dood in Boksburg in 'n ontploffing van 'n tenkwa wat LPG-gas vervoer toe dié onder 'n spoorwegbrug vassit. As jy nou hier was, sou ons hierdie nuusgebeure tot in die fynste detail bespreek het - veral daardie ontploffing - want risikobestuur was mos jou kos!
Na my ma se afsterwe op 5 Desember hoor ek jou sê: "Praat met jou ma terwyl jy nog kan" - wanneer sy gebel het en langer gepraat het as waarvoor ek miskien lus was.
Vandag is dit 365 dae - een jaar - sedert jy nie meer met ons is nie en ek mis jou goeie geselskap meer as ooit. Maar jou lewenslesse en segswyses leef voort wanneer ek gereeld vir een van my kinders sê: "Soos oom Leo altyd gesê het", of ek een van jou vele wyshede neerpen in my redaksioneel in 'n weeklikse nuusbrief.
Net voor ek te morbied kan raak oor daar nou so in "ons bos gekap word" (ook jou uitdrukking), kom daar op die dag na Kersfees 'n nuwe asempie onverwags en onaangekondig by die huis aan; my plek is nog altyd 'n tehuis vir "verdwaalde katte". En net so onaangekondig en onverwags (of dalk nie) kruip sy in my hart in en vul sy 'n groot leemte. Soos my ander katjies sou Lilith - nou so drie, vier maande oud - jou ook uitgesoek het om by te kom lê, en sou ek agterna met antihistamien die ergste hooikoorssimptome behandel.
Die volgende 365 dae sal nie makliker wees nie, maar Lilith sal haar deel doen om die leemte en leegte in my hart te vul en al die verlies so 'n bietjie draagliker te maak. 😻
Like