Verlede jaar - dit was 'n Sondag - het ons Harties toe gery. Die dam het toe ook oorgeloop en al die sluise was oop. In gietende reën eindig ons dag met hamburgers en "craft"-bier by die Black Horse Brewery. Ons kon altyd so lekker gesels - oor alles en nog wat.
Dit is een jaar later. Maandag, 14 Februarie. Ek dateer my Parkrun-profiel op, druk 'n nuwe "barcode" uit en bestel 'n nuwe "wristband"; jy is steeds gelys as my ICE-kontak. Ons het sedert einde Maart 2018 op jou aandrang elke Saterdag 'n Parkrun gedoen - Bronberrik was jou gunsteling - en daarna by die Sutherland Spar se koffiewinkel gaan ontbyt eet, lemoen-, gemmer- en wortelsap gedrink en vir nog twee tot drie ure gesels (miskien sou jy selfs die koerant lees!) Ons laaste een was 7 Maart 2020, die dag van Jaco en Meriska se troue.
Ek haal jou selfoonnommer - ook gelys as ICE - van my kontaklys af. Soveel dae, soveel herinneringe, soveel veranderings en aanpassings wat ek altyd met jou kon deel... "...Hoor hoe raas die stilte..."
Ek het maar vir my 'n permanente herinnering aan jou gekry. Laaste "touch-up" moet nog gedoen word (net te laat om vandag klaar te wees). Dit help so 'n klein bietjie om jou plek in my hart warm te maak en dit so te hou. #PappaBeer




