Ek sal nooit die aand in Maart 2017 vergeet nie. Ek was nuut in Pretoria, en het besluit om by MFFC Fotografieklub aan te sluit. En daar ontmoet ek Leo Theron, met sy ferm handdruk, warm glimlag, laggende oë en sonore stem. Algou het Leo my eerste mentor geword, en mettertyd 'n baie spesiale vertrouensvriend. In die kort tydperk van minder as vyf jaar het ons soveel gedeel: gereelde uitstappies waartydens Leo met sy kenmerkende styl en geduld hierdie ou gryskop geleer het van fotografie; lang koffie-gesprekke oor enige onderwerp, en laataand foongesprekke oor die lewe.
En al is Leo nie meer hier saam met ons nie, leef sy nalatenskap in my lewe voort elke keer as ek my kamera optel of Lightroom oopmaak...
Chris van der Watt
