Dit is 'n koel, bewolkte en reënerige vroeg- Herfsdag in Gauteng en vanaand volmaan. Ek kom op 'n groepfoto af wat in Augustus 2015 geneem is met Tristan se 18de verjaardag.
Op 'n foto op Mark Pilgrim, radio-omroeper, se sosiale media tydlyn sit hy in een van daardie bruin leerstoele waarin pasiënte sit wanneer hulle chemo' kry. Hy het Fase 4 longkanker en vertel van sy erge nagtelike hoesbuie... Die stoel lyk soos die een waarin jy ook gesit het toe ek jou eenmaal - laat in 2015 - by Life Groenkloof se Mary Potter Onkologie Sentrum gaan haal het.
In Shakespeare se drama, "Julius Caesar", was daar darem iemand wat vir Caesar - met die woorde: "Beware the Ides of March" - kon waarsku dat hy met nuwe maan sou sterf (vermoor word voor die Senaat). Dit was dan ook rondom dié tyd dat Romeine hul skuld moes terugbetaal.
Maartmaand (2022) is vir my moeilik. In 2015 was dit ook in Maartmaand wat jy vir die borskanker geopereer is en ek by jou was die Sondag na ons heel eerste Capital Singers-uitvoering by Universiteitsoord NG Kerk, net nadat jy uit die hospitaal ontslaan is. Vanjaar is dit vir my die soveelste maand van groot aanpassing. Die kinders is skielik altwee binne 'n maand uit die huis uit, een-een word die groot skulde gedelg, maar ek voel "ingedoen" - dit was dan die tyd waaroor ons grappe gemaak het, wat so ver gelyk het en wanneer ons meer tyd saam sou kon deurbring. Hier is dit nou, maar jy is nie meer hier nie.
"Beware the Ides of March", inderdaad, al was nuwe maan al 2 Maart; dis vanaand volmaan en lirieke uit Justin Bieber se liedjie "Ghost" "spook" (!) by my: "... And if you can't be next to me/Your memory is ecstasy/I miss you more than life."
