Die lewe loop vreemde draaie met 'n mens; dit is ook waar oor hoe ek vir Leo - reeds in die jaar 2000 - ontmoet het.
Sedert September 2008 was ons reisgenote en gespreksgenote; hy was my raadgewer oor korporatiewe sake, kinderopvoeding, risikobestuur, motorbestuur en -onderhoud (al het ons nie saamgestem oor "short-shifting"/"block-changing" nie!) en fotografie. Hy was my dans-, Parkrun- en braaimaatjie, soms ook my finansiële en loopbaanadviseur. Ek wil sê sielsgenote, maar só naby kon ek nie aan dié trotse Lugmagoffisier kom nie... Hoe dit ookal sy, ons het dit geniet om tyd saam deur te bring en tonne pret gehad!
Terug na 2000 en ons eerste ontmoeting, by die Lugmagmuseum by die Swartkop Lugmagbasis. Ek het pas as Besturende Redakteur by 'n gemeenskapskoerant in Pretoria-Oos aangesluit en gou agtergekom die advertensie (stert) swaai die redaksioneel (hond). Die jaarlikse Swartkop Lugskou was om die draai en ek maak 'n afspraak vir 'n onderhoud met Kol Neil Thomas. Saam met Neil is Leo, hy hanteer die mediaskakeling van die lugskou. Ek stap daar uit met 'n lekker storie EN (my heel eerste ooit) betaalde kwartblad-advertensie: die waarborg dat my storie geplaas sou word.
Daarna nog 'n lekker storie, oor die vestiging van die koalas by die Nasionale Dieretuin in Pretoria. 'n Maatskappy met die naam African Attractions speel 'n belangrike rol in dié projek wat die installering van kameras, om die hoogs sensitiewe "marsupials" 24 uur 'n dag dop te hou, insluit. Mediaskakeling vir dié projek word weer eens deur Leo hanteer. Toe 'n SAAF 75 mediakonferensie by Waterkloof, en die Lugmag se Siyandiza-projek. Telkens word die mediaskakeling meesterlik deur Leo hanteer.
"Fast forward" 'n paar jaar, rondom 2004, vra ek sy raad oor die aankoop van 'n kamera: "Wat wil jy met die kamera doen?" was altyd sy eerste vraag. Op sy aanbeveling koop ek 'n Canon "point & shoot"; van my mooiste foto's sou ek daarmee neem.
"Fast forward" nog omtrent vyf jaar. Dit is September 2008 en ek en Leo gaan eet een aand by Leriba Lodge in Centurion.
Vir die volgende paar jaar werk ek en hy albei in Midrand; ons ontmoet mekaar gereeld vir koffie by 'n koffiewinkel naby ons kantore. Ek koop my tweede "point & shoot"-kamera, dié keer 'n Nikon.
Ons kuier oor en weer, gaan dikwels saam uit, vier my en my seun se verjaardae by die Swartkop Lugmagbasis se Hartebees, en woon ook enkele Lugmagvereniging- en fotografie-geleenthede saam by.
In 2013 is hy na 43 Air School in Port Alfred. Ek gaan kuier in 2014 - ons verbintenis versleg agv die afstand en omdat ons mekaar maar min gesien het. Die eerste keer wat ek weer van hom hoor is in Maart 2015, toe hy my skakel om te sê hy is gediagnoseer met borskanker en is terug in Gauteng vir chirurgie en behandeling. Ons het deurentyd kontak behou en in Augustus daardie jaar vat ons verbintenis weer "vlam"...
In die volgende paar jaar sien ons mekaar weer gereeld en ons gaan 'n hele paar keer saam met vakansie. Die laaste keer was in April vanjaar, na die Krugerwildtuin. As ek nou daaraan terugdink, was die aanduidings reeds daar dat hy nie meer so gesond was nie, maar in daardie stadium was dit - in die afwesigheid van enige inligting - onmoontlik om die "dots" te "connect", soos hulle sê.
Op 28 September vanjaar ry hy spontaan en onverwags - die eerste maal ooit - by my aan na 'n langverwagte en rigtinggewende besoek aan die onkoloog - die kanker was terug, meer aggressief as tevore en die prognose was nie goed nie. Hy was sigbaar ontsteld en emosioneel oorweldig deur die nuus.
Die agteruitgang in sy gesondheid is vinnig en merkbaar en hy is baie emosioneel die twee keer wat ons nog in Oktober vanjaar saam uitgaan voor hy op 4 November Kaap toe vlieg vir verdere behandeling en om naby sy familie en kwaliteit-versorging te wees. Ek gebruik dié kuiers om dankie te sê, te gesels en grappies te maak oor gebeure in die tyd wat ons saam was.
Ek groet my beste vriend wat oor 'n periode van meer as 21 jaar soveel vir my beteken het. Ek sal waarskynlik lewenslank sukkel om die horison reguit te kry op my amateur-prentjies (dit is nie foto's nie!) en 'n dag sonder 'n WhatsApp-boodskap van hom af, al is dit net om te vra "Hoe loop jou dag?", sal (in sy woorde) steeds "stranger than fiction" wees.



















Rus sag, liefste Leo. Mag jy elke dag die heel beste filterkoffie drink, gemaak met vars gemaalde koffiebone en die warmste warm kookwater, "rooi brood" met Butro en marmelade vir ontbyt eet en goeie rooiwyn drink (net tydens ete, onthou!). Ek gaan jou soooooo baie mis. Jou woorde in 'n laaste epos aan my in Augustus verlede jaar is nou my afskeidswoorde aan jou: "Ek maak jou plek in my hart warm en hou dit so".